VF Plus trots op parlementslid Wouter Wessels onder land se mees invloedryke jong mense

2021-03-17
Die Redaksie

"Die VF Plus is trots op die aanwysing van een van sy parlementslede en nasionale swepe, mnr. Wouter Wessels, as een van die honderd mees invloedryke jong mense in Suid-Afrika vir 2020," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die bekende skakel- en graderingsmaatskappy Avance Media doen jaarliks hierdie beoordeling en het mnr. Wessels ook vir 2018 op hierdie wyse vereer.

"Hierdie aanwysings fokus daarop om hardwerkende en uitstaande jong mense te vereer vir hul prestasies. Wat vanjaar se lys aanbetref, is in besonder gefokus op persone wat uitgestaan en buitengewoon goed gepresteer het te midde van die Covid-19-pandemie.

 

"Die VF Plus is trots daarop om iemand soos mnr. Wessels in ons geledere te hê. Hy is hardwerkend en bekwaam en verdien die eer wat hom op hierdie wyse toegedeel is."

 

"As leier van die VF Plus sien ek dit ook as bewys dat die party kwaliteit-parlementslede in sy geledere het wat hard werk om ʼn toekoms te skep vir die volgende geslag inwoners van die land.

"Die VF Plus sal voortgaan om jong mense aan te moedig om betrokke te raak by die party om saam te help werk en bou aan ʼn beter toekoms. Hierdie toekenning sal dien as inspirasie vir ander jeugdiges om, soos mnr. Wessels, na die hoogste sport te streef," sê Groenewald.

WouterWesselsDrPieterGroenewaldAvanceMediaInvloedrykeJongMense

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!