"Die uitslag van die tussenverkiesing in Wyk 2 van die JB Marks Munisipaliteit (Potchefstroom), dien as bewys dat die VF Plus volgehoue groei in steun geniet. Die VF Plus het hierdie wyk van die DA gewen," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die VF Plus se aantal stemme het sedert 2016 se munisipale verkiesing met 56% gestyg, terwyl die DA 65% van sy stemme sedertdien verloor het.
"Die VF Plus-kandidaat, Everhard Laing het die wyk gewen en die partry se groei in Noordwes met 8 Mei se algemene verkiesing voortgesit. As wyksraadslid sal Laing alles in sy vermoë doen om Wyk 2 se inwoners se belange te dien.
"Die party se steun het tydens die pas afgelope nasionale verkiesing meer as verdubbel en hierdie tussenverkiesingsuitslag wys dat die party volgehou groei en 'n beduidende rolspeler in die 2021-munisipale verkiesing sal wees.
"Die VF Plus het daarin geslaag om 677 stemme op hom te verenig, teenoor die DA, wat voorheen die wyk regeer het, se 489 stemme. Die ANC het 424 stemme gekry.
"Die VF Plus in Noordwes sal ook voortbou op sy oorwinnings en werkbare oplossings bied aan inwoners wat opsoek is na alternatiewe vir swak dienste en wyke in die provinsie.
"Die VF Plus bedank elke kieser wat sy vertroue in die party gestel het en gister vir die groeiende alternatief wat ware verandering bring, gestem het. Die toename in steun versterk die party se mandaat om sy beleid te bevorder en werklike verandering teweeg te bring," sê Groenewald.