VF Plus versoek dringende ekonomiese beleidsverandering om groei te stimuleer

2020-04-11
Die Redaksie

"Die verlenging van die nasionale inperkingstyd met ‘n verdere twee weke gaan onafwendbaar lei tot die opdroog van kontantvloei, die tot stilstand koming van die ekonomie met onafwendbare groeiende werkloosheid, hongersnood en maatskaplike- en politieke spanning as gevolg," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.

"Die regering sal dringend ‘n balans moet vind tussen die inperkingsregulasies wat die impak van die Covid-19-virus op die samelewing sal beperk, asook dringende ekonomiese beleidsveranderinge wat enersyds verligting kan bring en selfs ekonomiese groei kan stimuleer.

 

"Dit is nou die tyd om op nasionale vlak wesenlike beleidsaanpassings te maak om hierdie ekonomiese stimulering te bewerkstellig."

 

 

"Die regering sal moet afstand doen van sy gesentraliseerde sosialistiese staatsbeheerde beheptheid en ‘n moratorium plaas op nie-volhoubare ideologies gedrewe kwota-wetgewing soos Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE) en Regstellende Aksie (RA).

"Alle plaaslike kundigheid moet ingespan word om die ekonomie te stimuleer en die ontwikkeling van plaaslike- en gemeenskapsekonomie, wat minder afhanklik is van invoere, moet ondersteun word. Markkragte en ondernemerskap moet aangemoedig word.

"Die verdere inkrimping van Suid Afrika se ekonomie gaan lei tot ‘n uitgerekte resessie terwyl die land se ekonomie reeds vanweë swak regering, korrupsie, staatskaping en afgradering deur kredietgraderingsagentskappe, in ‘n verswakte staat verkeer," sê Mulder.

JacoMulderHandelEnNywerheid#Covid19SA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!