VF Plus verwelkom maatreëls om koronavirus te beveg; vra alle Suid-Afrikaners om saam te werk

2020-03-15
Die Redaksie

"Die VF Plus verwelkom die maatreëls wat president Cyril Ramaphosa vandag aangekondig het om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika te beveg en doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te staan in die aangesig van ‘n siekte wat rampspoedige gevolge vir die land en die wêreld kan inhou," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die verbod op reis na sekere buitelandse bestemmings, die verbod op sekere samekomste, byeenkomste wat gekanselleer is en die sluiting van landsgrense en skole word verwelkom.

 

"Die VF Plus het sedert Januarie 2020 versoek dat daar vroegtydig opgetree moet word en het hierdie versoek en hierdie standpunt in die parlement gehuldig."

 

"Hierdie optrede is proaktief om Suid-Afrikaners teen die virus te beskerm en moet daarom verwelkom word. Die verspreiding van die virus word beperk deur die beweging van mense in te perk en om ‘n verbod op groot samekomste of byeenkomste te plaas.

"Die publiek moet nie nou dink dat hierdie maatreëls Suid-Afrika oornag gaan red van die virus, wat dodelike gevolge kan hê nie, maar dit is steeds noodsaaklik dat daar gehoor gegee word en voortgegaan word moet met persoonlike voorsorgmaatreëls en higiëne.

"Gebeure in Amerika het aangetoon dat die verspreiding van die virus drasties ingeperk is met voorsorgmaatreëls soos die verbod op vlugte na die buiteland, die sluit van grense en die opskorting van byeenkomste.

 

"Die Suid-Afrikaanse regering het geen keuse gehad as om die voorbeeld van ander lande te volg nie."

 

"Indien die kabinet hierdie stap nie geneem het nie, sou die situasie in Suid-Afrika heeltemal handuit kon geruk het soos in Europa gebeur het en kon die land met geweldige lewensverliese en ‘n onbeheerbare krisis gesit het," sê Groenewald.

 

PieterGroenewaldKoronavirus

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!