VF Plus verwelkom verlaging van rentekoers, veral onder die wolk van korona

2020-03-19
Die Redaksie

"In die lig van die wurggreep waarin die korona-pandemie Suid-Afrika se ekonomie geplaas het en oor die ernstige krisis waarin die land se ekonomie reeds verkeer het, verwelkom die VF Plus die rentekoers-verlaging van een persentasiepunt wat die Reserwebank vandag aangekondig het," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.

"Die verlaging opsig self, bied egter nie genoeg verligting nie en die VF Plus sal die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, nader om in die lig van die krisis wat korona veral vir kleiner sake-ondernemings veroorsaak het, verdere hulpmaatreëls te oorweeg.

 

"Bykomende maatreëls wat die minister vandag aangekondig het, soos ‘n bepaling dat ondernemings se winsgrense dieselfde bly soos dit voor die korona-krisis was, word wel verwelkom."

 

"Bykomende maatreëls is egter van die grootste belang om ondernemings en die publiek van finansiële ondergang te red. 

"Die VF Plus sal die minister daarom versoek om as ʼn saak van dringendheid skuldverligting deur ʼn sogenaamde skuld-terugbetalingsvakansie vir ʼn periode van vier tot ses maande te oorweeg na oorleg met banke en ander kredietverskaffers ingevolge die magte wat die nasionale ramptoestand aan hom verleen," sê Mulder.

JacoMulderHandelEnNywerheidRentekoers

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!