Wêreld sal hom nie laat mislei deur onteiening sonder vergoeding (OSV)

2020-06-30
Die Redaksie

"Dit is verstommend dat die ANC en die EFF nie kan sien hulle stuur met onteiening sonder vergoeding (OSV) ʼn sterk boodskap aan die wêreld dat Suid-Afrika die pad van Zimbabwe loop nie," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.

"Suid-Afrika se finansiële posisie was reeds totaal chaoties toe die minister van finansies vroeër vanjaar sy begroting voorgelê het. Almal weet dit is die resultaat van die ANC se onbevoegdheid, oneerlikheid en sy beleid van sosialisme waaroor Margaret Thatcher tereg gesê het die probleem met dié stelsel is dat ander mense se geld wat gebruik word, eindelik opraak.

 

"Nou stuur die regering met OSV die boodskap aan dié wêreld se beleggers dat hulle wel welkom is om in die land te kom belê, maar dat hulle moet weet dat hul eiendom sonder vergoeding afgeneem kan word. Dit is bloot ʼn ander manier om te sê dit sal gesteel word."

 

"Die verlede het al gewys dat net die muishondlande van die van die wêreld daardie roete volg en die ANC plaas hom nou met hierdie optrede vierkant in daardie liga.

"Die waarheid agter OSV is dat die EFF in die verlede op sy eie probeer het om die resolusie deur die parlement goedgekeur te kry, maar dit nie kon regkry nie.

"Toe aanvaar die Nkosazana Dlamini-Zuma-faksie dit intern terwyl Cyril Ramaphosa sy oorwinning in die ANC se presidentsverkiesing vier. Die EFF het daarna toegeslaan en die kwessie hul eie gemaak deur die ANC heeltemal te uitoorlê toe die resolusie daaroor die eerste keer in 2018 in die parlement aanvaar is.

 

"Die EFF probeer sy bes om die land te vernietig, maar is ironies genoeg te bang vir die Covid-19-virus om daaroor in die parlement debat te voer."

 

"Die VF Plus sal OSV met alles in sy vermoë teenstaan en sal internasionale en plaaslike steun daarvoor werf om te wys op die absolute kortsigtigheid van OSV en die totale vernietiging wat dit vir die land inhou," sê Mulder.

EFFDrCornéMulderANCArtikel25OnteieningSonderVergoeding

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!